Dink aan die hoeveelheid kere wat jy al in jou lewe moes hoor oor die dinge wat jou nie doodmaak nie, maak jou glo sterker. Dink ook aan die kere wat jy gedink het dis ‘n proses waarvan jy veel eerder verskoon sou wou word. Dat daardie noodgedwonge loutering iets is wat maar eerder kon gebly het, en dat die dagboek van jou gemoed regtigwaar nie nog sulke ongerieflikhede wil aanteken nie.
Waarom ek? Hoe lank voor ‘n uitkoms? Hoe uiters onregverdig?
Ek wens ek het geweet.
Ek sou jok as as ek sê ek het nie al ‘n keer of wat self hierdie moedelose vrae uitgesug nie. Dink aan die tye waar jy aangeraai is om met iemand te gaan praat oor jou moeilikheid. Met wie nogal? Wie sien nou kans om tussen die meer as sewe miljard mense op ons planeet te luister na die onsekerhede en hartseer van ‘n enkele sterfling met ‘n gemoeds-migraine? Dalk vir jou ook ‘n bekende gedagte.
Wat ek wel oor seker is, en die bewyse hiervan word beslis al meer met elke verjaarsdag-koopbewys wat ek ontvang, is dat daar geen meer onvoorspelbare verskynsel as die lewe bestaan nie. En in een of ander verrassings-lustige plek waarmee die menslike hart gebore is, is daar beslis ruimte om hierdie ding saam te dra. ‘n Natuurlike programmering van DNS om die onverwagte te verwag, en te verwelkom.
Vandaar sekerlik expect the unexpected.
Dink aan ‘n blits-balansstaat van jou eie lewe. Was als wat jou die afgelope ses maande getref het binne jou beplanning en beheer? Was elke ding wat van jou weggeneem is, en als wat jy bygekry het die afgelope ses maande dinge wat jy verwag het?
Indien dit wel so is, moet jy my tog opsoek op Twitter – ek wil graag ‘n onderhoud met jou voer want jy’s die mees seldsame mens wat ek nog van gehoor het.
Ek’s oortuig daarvan dat die lewe ‘n beautiful manier het om die ekwilibrium te herstel, en dat die donkerste van donker gewoonlik net voor ‘n uitbarsting van verblindende lig voorkom.
Die beste is nog op pad. Die verlede is soms te ver of the naby vir die hart om te hanteer, en die gedagte van die toekoms soos ‘n Suidooster vol onverstaanbare aksente wat jou hond en jou gunsteling potplant wegwaai.
As dit erkenning by die werk, ‘n gesondheids-uitkoms, of net ‘n tydelike bêreplek vir jou verslete hart is waarna jy smag, gordel vas. Om die waarheid te sê, maak reg vir die lewe wat jou waarskynlik gaan uitboul met antwoorde en moontlikhede ver beter as wat jy self kon uitdink.
Hou intussen aan om daardie pastorale hawens van jou gereeld te besoek, of dit nou lang ente se draf teen die steiltes van Tuine is, of Nine Inch Nails op ‘n onwettig hoë volume-verstelling. Hou moed. Doen wat jy doen met ‘n eerlike hart, en wees dankbaar. Vir die dinge wat kom, en vir die tussen-fases wat die lewe ons bied om verbeterde sig te hê oor onsself en die kortstondige wandeling op hierdie beseerde, dog ruimhartige planeet.
“The secret of life, though, is to fall seven times and to get up eight times.” – Paulo Coelho